Bedrogbewustheid: Beskerm jou voordele, beskerm jou Skema

By Remedi is ons daartoe verbind om elke lid se gesondheid en finansiële welstand te beskerm. Daarom is dit vir ons belangrik om die Skema se integriteit te beskerm en seker te maak dit bly volhoubaar vir nou én vir die toekoms.

Een van die grootste bedreigings vir die langtermynstabiliteit van enige mediese skema is bedrog, vermorsing en die misbruik van voordele vir alle lede. Dit is 'n groeiende uitdaging regoor die gesondheidsorgbedryf.

Bedrog ondermyn die vertroue waarop ons Skema gebou is en het 'n direkte invloed op die bekostigbaarheid van bydraes en die beskikbaarheid van voordele. By Remedi is daar geen plek vir bedrog nie. Elke lid kan help om die Skema te beskerm deur voordele verantwoordelik te gebruik en verdagte aktiwiteite aan te meld.

Wat word as bedrog beskou?

Gesondheidsorgbedrog vind plaas wanneer 'n lid, gesondheidsorgverskaffer of derde party doelbewus vals of misleidende inligting indien om voordele te verkry of betalings te ontvang waarop hulle nie geregtig is nie. Al lyk sekere optrede onskuldig of soos net 'n klein gunsie, beskou die Wet op Mediese Skemas dit as bedrog en kan dit ernstige gevolge hê.

Algemene lidverwante bedrog sluit in:

  • Om vals eise in te stuur, soos om vir dienste of items te eis wat nooit ontvang is nie.
  • Om iemand anders se lidkaart te gebruik. Om 'n vriend of familielid toe te laat om jou mediesefondsbesonderhede te gebruik, is onwettig, selfs al word geen geld uitgeruil nie.
  • Om jou chroniese medisyne met ander te deel. Voordele is slegs vir jou eie behandeling bedoel
  • Om onderduims met 'n verskaffer saam te sweer, soos om met 'n verskaffer saam te stem dat vir 'n duurder diens geëis word as wat wel gelewer is.
  • Om verskaffers nie te betaal nie. Soms betaal ons eise direk aan lede uit, waarna dit die lid se verantwoordelikheid is om die verskaffer te betaal. Om die geld te hou sonder om die verskaffer te betaal, is bedrog.
  • OTM-bedrog. Om met 'n verskaffer saam te sweer om vir dienste te eis en die geld dan tussen die verskaffer en die lid te verdeel.

Algemene verskafferverwante bedrog sluit in:

  • Eis vir dienste wat nie gelewer is nie, soos om vir konsultasies, toetse of prosedures te eis wat nooit plaasgevind het nie.
  • Opkodering (upcoding). Dit is wanneer geëis word vir dienste wat duurder is as die dienste wat werklik gelewer is.
  • Onnodige prosedures. Dit verwys na toetse of behandeling wat net gedoen word sodat die verskaffer hoër eise kan instuur, nie omdat dit medies nodig is nie.
  • Om eise op te blaas of te verdeel. Dit gebeur wanneer 'n eis doelbewus opgebreek of verhoog word sodat voordele meer as een keer benut kan word.

Indien jy ooit deur 'n verskaffer onder druk geplaas word om oneerlik op te tree of wanneer iets eenvoudig net nie reg voel nie, moet jy iemand daarvan vertel.

Waarom daar by Remedi geen plek is vir bedrog nie

Bedrog is nie 'n slagofferlose daad nie. Elke bedrieglike eis, hoe klein ook al, tap fondse uit die Skema se reserwes. Hierdie reserwes is daar om jou en jou gesin te beskerm wanneer jy dit die nodigste het.

Omdat mediese skemas op die beginsel van gedeelde risiko funksioneer, benadeel bedrog elke enkele lid deur:

  • Die algehele koste van eise te verhoog
  • Die geld wat vir werklike gesondheidsorgbehoeftes beskikbaar is minder te maak
  • Tot die verhoging van skemabydraes by te dra
  • Langtermyn finansiële druk op die Skema te plaas

Dit is waarom Remedi geen bedrog verdra nie. Dit beskerm eerlike lede en verseker dat die Skema billik, bekostigbaar en volhoubaar bly.

Gevolge van bedrog

Enige lid of verskaffer wat aan bedrieglike aktiwiteite skuldig bevind word, sal ernstige gevolge in die gesig staar, wat die volgende kan insluit:

Vir lede:

  • Beëindiging van lidmaatskap. Bedrog lei tot onmiddellike verwydering uit die Skema.
  • Terugeis van verliese. Enige geld wat weens bedrog uitbetaal is, sal teruggevorder word.
  • Regs- of strafregtelike vervolging. Bedrieglike eise oortree Suid-Afrikaanse wetgewing en kan tot vervolging lei.
  • Toekomstige probleme met mediese fondse. 'n Bedrogrekord kan dit moeiliker maak om by ander skemas aan te sluit.

Vir verskaffers:

  • Swartlysing en rapportering aan regulerende liggame
  • Verwydering uit Remedi se verskaffernetwerk
  • Strafregtelike vervolging

Bedrog word uiters ernstig opgeneem omdat die gevolge van die ignorering daarvan selfs ernstiger is vir die Skema en sy lede.

Wat jy kan doen om jouself en jou Skema te beskerm

Elke lid speel 'n sleutelrol in die voorkoming van bedrog. Die besluite wat jy neem - groot en klein - help om bydraes bekostigbaar te hou en om seker te maak dat jou voordele nog beskikbaar is wanneer jy dit nodig het.

Jy kan só help:

  • Gebruik jou voordele eerlik en verantwoordelik. Eis slegs vir dienste wat jy werklik gekry het. Moet nooit jou lidmaatskapbesonderhede met iemand anders deel nie.
  • Gaan jou state na. Gaan altyd jou eisstate en kennisgewings van jou Remedi-toepassings na om seker te maak dat die eise ooreenstem met die dienste wat jy ontvang het. Meld enigiets aan wat ongewoon lyk.
  • Wees versigtig in jou interaksie met verskaffers. Indien 'n verskaffer voorstel dat jy vir iets eis wat jy nie ontvang het nie, loop weg en rapporteer die voorval.
  • Rapporteer verdagte aktiwiteite. As iets nie reg voel nie - of dit nou 'n verskaffer, 'n familielid of 'n ander party is - meld dit asseblief anoniem deur Remedi se bedrogblitslyn of lidondersteuningskanale aan:
    • Tolvrye telefoonnommer: 0800 00 45 00
    • SMS nommerr: 43477
    • Tolvrye faksnommer: 0800 00 77 88
    • E-posadres vir die blitslyn: discovery@tip-offs.com
    • Pos: Freepost DN298, Umhlanga Rocks 4320
    • E-posadres vir 'n direkte ondersoek: forensics@discovery.co.za
Saam beskerm ons Remedi se volhoubaarheid

Remedi bestaan tot voordeel van al sy lede. Deur ferm teen bedrog standpunt in te neem en voordele met integriteit te gebruik, maak ons seker dat die Skema sterk, stabiel en volhoubaar bly vir die jare wat voorlê.

Jou waaksaamheid help om die Skema vir almal te beskerm. Dankie dat jy saam met ons werk om jou gesondheidsvoordele - en mekaar - te beskerm.

Log in