Bly veilig in die wêreld van digitale inligting

Ons almal waardeer die gerieflike en doeltreffende nuwe digitale hulpmiddels op alle gebiede van ons lewens, soos inkopies, vervoer, banksake en toepassings van mediese skemas. Ons moet egter altyd almal bewus en veilig bly wanneer ons aanlyn is.

Verstaan hoe ons jou persoonlike inligting bestuur en verwerk

As 'n mediese skema, moet ons jou persoonlike inligting bestuur en verwerk sodat ons dienste aan jou kan verskaf, jou gesondheidsorgbehoeftes kan befonds en ons wetlike en regulatoriese pligte kan nakom.

Ons doen dit met groot sorg, maar jy as lid het ook bepaalde verantwoordelikhede in hierdie verband. Hou asseblief deurentyd jou kontakbesonderhede op datum en verstaan hoe ons jou persoonlike inligting verwerk en dit veilig hou. Indien jy nog nie die inhoud van ons privaatheidsbeleid gelees het nie, doen dit asseblief. In die voetskrif van die Skema se webwerf is daar 'n skakel na ons Privaatheidsbladsy.

Moenie jou lidmaatskapbesonderhede aan iemand gee nie

Jy moet nooit jou wagwoord vir die Skema se webwerf of Remedi se toepassing vir slimtoestelle aan iemand gee nie en ook nie jou lidmaatskapbesonderhede of lidkaart nie; maak nie saak of dit die plastiekkaart of die virtuele kaart op Remedi se toepassing vir slimtoestelle is nie. Onthou dat net jy en jou geregistreerde afhanklikes die voordele van jou lidmaatskap mag gebruik. Indien jy toelaat dat iemand anders jou lidmaatskapsvoordele gebruik, beskou ons dit as bedrog - 'n misdaad met nagevolge. Die reg, in ons geval die Wet op Mediese Skemas, stel dit duidelik: lede wat die Skema bedrieg se lidmaatskap sal beëindig word en die saak sal aan die toepaslike werkgewer oorgegee word. Jy kan jouself voorstel dat werkgewers nie 'n werknemer in diens sal wil hou wat 'n misdaad gepleeg het nie.

Wees op die uitkyk vir aanlyn bedrog

Volgens die Surfshark Alert-databasis is Suid-Afrika nou een van die tien lande wêreldwyd wat die meeste kubermisdaadaanslae kry wat individue beïnvloed. Van hierdie aanslae is uitvissingsboodskappe ("phishing") die algemeenste kubermisdaadaanslag. 'n Uitvissingsboodskap verwys na die poging om die ontvanger van 'n boodskap te mislei om sensitiewe inligting bekend te maak of om skadelike sagteware, soos losprysware ("ransomware"), op jou toestel te ontplooi. Dit kan 'n e-pos wees van 'n bron wat baie soos 'n betroubare organisasie lyk, soos die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID), of jou bank, wat jou vra om jou persoonlike of intekenbesonderhede te gee. Ons sien ook 'n toename in swendelaars wat WhatsApp-skakels aan gebruikers stuur en daarmee saam beweer dat die gebruiker 'n beloning kan kry, soos 'n koopbewys by 'n bekende winkel, deur slegs 'n eenvoudige meningspeiling in te vul. Hier is 'n paar waarskuwingstekens om voor op die uitkyk te wees:

  • As dit lyk of dit te goed is om waar te wees, dan is dit. Wees bedag as die sender vreeslike druk op jou plaas omdat dit dringend is.
  • Sodra iemand jou vir sensitiewe inligting (soos jou bankbesonderhede of intekenbesonderhede) vra, wees bedag!
  • Onvanpaste karakters in die skakels of senderadres en woorde wat verkeerd gespel is, word gebruik om jou gemorsposfilters te ontduik.
  • As dit nie professioneel lyk nie, is dit waarskynlik nie.

Wees op jou hoede wanneer jy op onbekende, aanlyn versoeke reageer. Hou jou antivirussagteware bygewerk sodat dit die jongste beskerming insluit en skerp jou kennis van aanlyn sekuriteit op. Ons doen alles van ons kant af om jou inligting veilig te hou. Indien jy ooit twyfel of bepaalde kommunikasie van die Skema af kom, of as jy agterdogwekkende transaksies op jou lidmaatskap sien, kontak ons gerus.

  • E-pos discovery@tip-offs.com
  • Tolvrye telefoonnommer: 0800 00 45 00
  • Tolvrye faksnommer: 0800 00 77 88
  • Pos: Freepost DN298, Umhlanga Rocks 4320
Log in