Bewustheid van geestesgesondheid is die hele jaar lank belangrik

Julie is die bewusmakingsmaand vir geestesgesondheid. Soos die tema aandui, gaan die maand daaroor om bewustheid oor geestelike welstand te skep om sodoende te help om lewens te red en die stigma verbonde aan geestesongesteldheid te verbreek.

Daar is baie soorte geestesiektes, soos:
  • Angsversteurings
  • Depressie en bipolêre gemoedsversteuring
  • Eetversteurings
  • Persoonlikheidsversteurings
  • Posttraumatiese stresversteuring
  • Psigotiese versteurings, soos skisofrenie
Geestesgesondheidsorg vir tieners

Geestesongesteldheid begin vroeg in die lewe, met 50% van geestesgesondheidstoestande wat volgens die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) reeds op die ouderdom van 14 begin. Tog bly dit grootliks verborge en onbehandeld.

Volgens die Suid-Afrikaanse Depressie- en Angsgroep (SADAG) word 9% van alle tienersterftes deur selfdood veroorsaak. SADAG vind 'n groot verband tussen depressie en selfdood, veral waar die tekens van depressie nie as sodanig raakgesien en behandel word nie.

Data van die Wêreldgesondheidsorganisasie toon verder dat depressie die vierde grootste oorsaak van siekte en gestremdheid onder adolessente van 15 tot 19 jaar is. Angs is die negende grootste oorsaak en selfdood is die derde grootste oorsaak van sterftes in hierdie ouderdomsgroep.

Sowat 90% van selfdoodgevalle onder adolessente vind in lae- en middelinkomstelande plaas.

Simptome van geestesongesteldheid

Aangesien daar 'n verskeidenheid geestesiektes is, kan simptome na gelang van die toestand en omstandighede verskil.

Hier is 'n paar voorbeelde van simptome:

  • Dramatiese slaap- en eetlusveranderinge
  • Afname in persoonlike sorg
  • Vinnige of dramatiese veranderings in emosies
  • Onttrekking van sosiale aktiwiteite wat die persoon voorheen geniet het
  • 'n Verandering in prestasie by die skool of werk, of deelname aan buitengewone sosiale aktiwiteite
  • Probleme met konsentrasie, geheue of logiese denke en spraakveranderings wat moeilik is om te verduidelik
  • Verhoogde sensitiwiteit vir beelde, klanke, reuke of aanraking
  • Verlies aan inisiatief of begeerte om aan enige aktiwiteit deel te neem
  • 'n Vae gevoel dat jy los van jouself of jou omgewing is; 'n gevoel van onwerklikheid
  • Ongewone of oordrewe oortuigings oor persoonlike mag om betekenisse te verstaan of gebeurtenisse te beïnvloed; onlogiese of "magiese" denke, wat tipies in kinderjare voorkom, by 'n volwassene.
  • Vrees of agterdog vir ander
  • Gedrag wat nie eie aan die persoon is nie, soos selfdoodgedagtes
Wat veroorsaak geestesongesteldheid?

Alhoewel daar verskeie faktore is wat tot geestesongesteldheid kan bydra, is daar geen enkele oorsaak daarvan nie. Faktore wat kan bydra tot geestesongesteldheid sluit in:

  • Jou gene en familiegeskiedenis
  • Jou vorige ervarings, soos stres of 'n geskiedenis van mishandeling, veral as dit in die kinderjare gebeur het
  • Biologiese faktore, soos chemiese wanbalanse in die brein
  • 'n Traumatiese breinbesering
  • 'n Ma se blootstelling aan virusse of giftige chemikalieë tydens swangerskap
  • Gebruik van alkohol of dwelms
  • Om 'n ernstige mediese toestand soos kanker te hê
  • Om min vriende te hê en eensaam of geïsoleer te voel
Wanneer om 'n dokter te sien of 'n geliefde te ondersteun

Die beste plan is om professionele hulp te soek as jy enige simptome van geestesongesteldheid merk of selfdoodgedagtes kry. Jy kan jou huisdokter gaan sien en, indien nodig, kan hy of sy jou dan na 'n spesialis verwys vir verdere behandeling. Geestesongesteldheid kan erger word as dit onbehandeld bly; dit is dus baie belangrik om op te tree.

As jy simptome van 'n geestesongesteldheid by 'n geliefde opmerk, is die beste roete om openhartig met hom of haar te praat oor jou besorgdheid. Alhoewel jy hom of haar dalk nie kan dwing om professionele sorg te kry nie, kan jy die persoon steeds ondersteun en aanmoedig. Jy kan hom of haar ook help om 'n gekwalifiseerde geestesgesondheidskundige te vind en 'n afspraak te maak. Jy kan selfs aanbied om saam met hom of haar na die konsultasie toe te gaan.

Vat jou geliefde na 'n hospitaal toe of ontbied hulp as hy of sy homself of haarself leed aangedoen het of daaraan dink om dit te doen.

Voorkomingswenke

Alhoewel daar nie 'n manier is om geestesongesteldheid te voorkom nie, kan jy stappe te doen om jou simptome te beheer as 'n geestesongesteldheid by jou gediagnoseer is. Dit behels om jou stres te beheer, om meer veerkragtig te word en om jou selfbeeld te verbeter.

Wees bedag op waarskuwingstekens, leer wat jou snellers is en maak seker jy weet wat om te doen as jy simptome kry. Die beste roete is altyd om jou dokter of terapeut vir leiding en advies in hierdie verband te vra. Maak seker dat jy hulp kry sodra enige simptome verskyn; dit kan moeiliker wees om te behandel as jy wag totdat die simptome erg is.

Sien om na jouself: kry genoeg slaap, eet gesond en kry oefening. As jy enige probleme hiermee het of enige vrae het, gaan sien 'n kundige persoon om die hulp te kry wat jy nodig het om beheer oor jou gesondheid te neem.

Log in