Uitstekende redes om weer te begin oefen

Die wintermaande is geneig om ons baie verskonings te gee om oefening uit te stel. Dit word vroeg donker, dit is te koud om te gaan stap of hardloop en ons beddens begin ons beste vriende word. Dit word nou warmer en verskonings raak op, daarom gee ons jou drie uitstekende redes om weer aan die oefen te kom. Ons gee jou ook 'n paar wenke oor hoe om te begin.

Hoe gereelde oefening jou kan help

Om gesond te eet en gereeld te oefen, kan jou help om chroniese siektes te voorkom en jou help om die simptome van sommige chroniese siektes te bestuur.

Gereelde oefening kan jou help:

  • Om die risiko vir tipe 2-diabetes te verminder
  • Om jou cholesterolvlakke te beheer
  • Om die risiko te verminder dat plaak (vetterige aanpaksel) in die arteries opbou
  • Om jou bloeddruk te verlaag
  • Om die risiko vir beroerte te verminder deur bloedsirkulasie te verbeter
  • Jou immuunstelsel te versterk en die kanse te verminder om siek te word
Oefening is goed vir jou hart en longe

Al jou spiere word sterker wanneer jy oefen. Dieselfde geld ook vir jou hart. 'n Sterk hart het beter bloedsirkulasie. Op sy beurt help dit om meer suurstofryke bloed na die liggaam te vervoer en koolstofdioksied na die longe toe.

Oefening verhoog ook jou longkapasiteit. As jy gereeld oefen, sal jou liggaam minder suurstof nodig hê om spesifieke take uit te voer - soos bergklimmers wat selfs in die dun lug van die hoogste pieke kan aanhou klim.

Oefening verminder stres en laat jou snags beter slaap

Oefening kan jou 'n goeie blaaskans van alledaagse stres gee. Terwyl oefening jou aandag van jou bekommernisse kan aftrek, is chemie die eintlike rede waarom jy meer ontspanne voel. Wanneer ons oefen, produseer ons liggame endorfiene wat ons beter laat voel. Ander hormone wat help om stres en angs te beheer, is norepinefrien, dopamien en serotonien - ons produseer ook meer hiervan terwyl ons oefen.

Mense wat minder gespanne is, slaap ook beter. As jy gereeld oefen, behoort jy vinniger aan die slaap te raak, beter te slaap en gedurende die dag minder moeg te voel as mense wat dit nie doen nie.

Hoe om te begin

Dokters beveel ten minste 30 minute se matige aërobiese oefening vyf dae per week aan, of ten minste 20 minute se kragtige oefening drie dae per week.

Oefen en herinner jouself daaraan dat jy dit vir jou gesondheid doen. Dit is 'n goeie idee om 'n vriend of maat te hê wat dit saam met jou doen sodat julle mekaar kan aanmoedig. Kies 'n aktiwiteit wat jy geniet. As jy nie daarvan hou om te hardloop of na die gimnasium te gaan nie, kies iets soos dans of gevegskuns. Begin stadig en bou jou fiksheidsvlakke geleidelik op om beserings te vermy.

As jy enige probleme met jou gesondheid het, moet jy met jou dokter gesels voordat jy begin oefen.

Log in