Kry jou bloedsuikervlakke onder beheer met 'n gesonde eetplan
As jy diabetes of prediabetes het, kan die regte eetgewoontes jou help om gesond te bly en jou energie deur die dag stabiel te hou. Hier is 'n paar wenke oor wat, wanneer en hoeveel om te eet wat sal help om wisselende bloedsuikervlakke onder beheer te kry.
Het jy geweet dat jy jou risiko vir tipe 2-diabetes met 90% kan verminder deur nie te rook nie, 'n gebalanseerde dieet te volg en 'n gesonde gewig te handhaaf? Dit is 'n noemenswaardige persentasie - alles te danke aan gesonde leefstylgewoontes.
Onthou, daar is twee tipes diabetes: In tipe 1-diabetes val die liggaam sy eie insulienproduserende selle aan; in tipe 2 raak die liggaamsweefsel geleidelik minder sensitief vir insulien. Dit veroorsaak dat beta-selle in die pankreas harder moet werk en uiteindelik onklaar raak.
Tipe 1-diabetes affekteer ongeveer 5% tot 10% van die bevolking wat diabetes het, maar die meeste mense met diabetes het tipe 2-diabetes. Alhoewel tipe 2 ook geneties is, word dit baie keer deur leefstylfaktore veroorsaak, wat beteken dat dit voorkombaar is. Dit is veral belangrik om daarop te let dat as 'n persoon onaktief of oorgewig is, die pankreas sukkel om genoeg insulien te produseer om stygende bloedsuikervlakke te beheer.
Drie komponente wat bloedsuikervlakke beïnvloed
Daar is drie basiese voedingskomponente wat bloedglukosevlakke beïnvloed:
- Die tipes kos en drank wat jy eet en drink: Voedselsoorte met 'n hoë veselinhoud en 'n lae glisemiese indeks (GI), soos volgraankos en vars vrugte en groente, behoort die grootste deel van jou dieet uit te maak. 'n Kwart van jou bord moet volgraankos hê, 'n kwart moet maer proteïene hê en die ander helfte van die bord moet 'n verskeidenheid groente hê. Jy behoort elke dag ten minste vyf porsies vrugte en groente te eet.
- Hoe om jou etes en peuselhappies te beplan: Drie etes per dag met peuselhappies tussenin is die beste manier om jou bloedglukosevlakke stabiel te hou.
- Hoeveel om te eet: Die ideale porsiegrootte hang af van jou gewig, hoe aktief jy is, watter tipe medisyne jy gebruik, jou geslag en ouderdom asook jou vlak van glisemiese beheer (bloedsuikerbeheer). 'n Dieetkundige kan aan die hand van hierdie faktore vir jou 'n praktiese, gebalanseerde eetplan volgens jou persoonlike behoeftes uitwerk.
Gewigsverlies kan help om stygende vlakke te bestuur
Dit is veral belangrik om 'n gesonde eetplan te volg, want as jy oorgewig is, loop jy 'n groot risiko om tipe 2-diabetes te ontwikkel. Die Wêreldgesondheidsorganisasie omskryf die volgende liggaamsmassa-indeksperke vir volwassenes:
- 'n Gesonde gewig is 'n BMI van 18.5 tot 24.9
- Oorgewig is 'n BMI van 25 tot 29.9
- Vetsug is 'n BMI van 30 of hoër
Die hoofrede vir vetsug en oorgewig is 'n energiewanbalans tussen die kilojoules wat jy inneem en die kilojoules wat jy opgebruik. Om dus gewig te verloor, moet jy aktief bly en meer energie opgebruik as wat jy inneem. Dit is oor en oor die moeite werd. Studies wys dat as jy so min as 7% van jou liggaamsgewig verloor, jy jou insuliensensitiwiteit met 57% kan verhoog!
Maar nie alle diabetes hou met gewig verband nie. Genetika speel ook 'n rol. Mense wie se familielede diabetes het, loop 'n hoër risiko om dit self te kry. Vir hulle kan selfs 2 of 3 ekstra kilogram 'n gevaarlike siklus begin wat uiteindelik tot diabetes kan lei. Dit beteken dat gewigsverlies 'n belangrike doelwit vir tipe 2-diabete is. Een van die doeltreffendste maniere om te begin, is om jou suikerinname drasties te sny.
Suiker is taboe
Mense se inname van gaskoeldrank en vrugtesap het wêreldwyd die hoogte in geskiet. Hierdie drankies is energiebelaai (hoog in kilojoules) en laag in voedsaamheid. Dit is dus maklik om te veel daarvan te drink. Dit is gevaarlik vir jou gesondheid, want 'n 330 ml-blikkie versoete gaskoeldrank bevat omtrent 40 g suiker, en dieselfde hoeveelheid versoete vrugtesap het byna 45 g suiker!
'n Navorsingsoorsig wat in die tydskrif Diabetes Care gepubliseer is, het gewys dat mense wat een tot twee koeldranke per dag gedrink het, 'n 26% groter kans gehad het om tipe 2-diabetes te ontwikkel as dié wat geen koeldrank gedrink het nie, of minder as een per maand.
Dus, minder suiker, kleiner porsies en gesonde maaltye met die regte tussenposes speel alles 'n rol daarin om jou bloedglukosevlakke stabiel te hou. Kry die oorhand oor diabetes. Gesels met 'n dieetkundige of opgeleide professionele diensverskaffer om vir jou 'n gesonde eetplan uit te werk!