Leer gesonde gewoontes aan om beter te lewe

Ons weet dat as ons gesonde keuses maak, dit tot 'n gesonder, gelukkiger en langer lewe kan lei. Ons weet ook dat dit nie maklik is nie.

Dit neem tyd en volharding vir 'n nuwe gewoonte om wortel te skiet. Om jou te help om aan die gang te kom, is hier drie aktiwiteite wat jy vandag kan doen om jou gesonder leefstyl vir altyd te verseker.

1. Beweeg meer en sit minder

Hoeveel uur per dag sit jy by jou lessenaar of op die rusbank? Jy sit mos nou, nie waar nie? Maar jy kan die roetine breek deur meer te beweeg, van vandag af.

Net 30 minute se matige oefening soos stap, hardloop of swem kan jou fisieke gesondheid verbeter, jou help om beter te slaap, stres en angs te verminder en jou bui 'n hupstoot te gee. Hier is 'n paar dinge wat jy kan probeer:

  1. Stel 'n herinnering (op jou foon, horlosie of rekenaar) om elke 30 minute op te staan. Selfs al strek jy net of loop op die plek, laat dit jou hart beter werk en jou bloed weer goed vloei.
  2. Probeer 'huisloop' (ja, loop in en om die huis rond) om meer treë in te kry wanneer jy te besig is vir 'n gestruktureerde oefensessie.
  3. Doen 'n parkrun by een van die beskikbare plekke regoor die land en stap of hardloop 5 km vêr as deel van 'n ondersteunende gemeenskap.
2. Eet goed en bly gehidreer

Net soos oefening, is gesonde eetgewoontes een van die belangrikste komponente. Hier is 'n paar wenke wat jy kan uittoets:

  • Berei vooraf gesonde etes voor vir dae waarop jy te besig gaan wees om van nuuts af te kook. Byvoorbeeld: Kook naweke in grootmaat en vries aparte porsies vir die week wat voorlê. Deur 'n kosblik met gesonde eetgoed te pak, verminder jy die versoeking om ongesonde kos by die werk te koop.
  • Om gehidreer te bly, help met konsentrasie. Hou dus 'n bottel water op jou lessenaar en drink dit voor die einde van die dag leeg. As gewone water te eentonig is, gooi stukkies vars vrugte of groente in vir geur, of drink onversoete kruietee.
3. Kry baie rus

Goeie slaap kan jou immuunstelsel versterk en jou bui verbeter. Maak seker dat jy genoeg slaap kry sodat jy jou liggaam, siel en gees kan herlaai.

Maar beter slaap is makliker gesê as gedaan, of hoe? Dit is belangrik om 'n slaaptydroetine te vestig wat elke dag dieselfde is sodat jou liggaam kan leer wanneer dit tyd is om in rusmodus te gaan. Hier is 'n paar dinge wat jy kan probeer:

  1. Word elke dag op dieselfde tyd wakker en gaan slaap op dieselfde tyd.
  2. Skakel jou toestelle 'n uur voor jy gaan slaap af.
  3. Moenie jou toestelle dadelik nagaan wanneer jy wakker word nie. Geniet die sonsopkoms of spandeer 'n bietjie kwaliteittyd saam met jou geliefdes voordat jy skerms in jou lewe toelaat.
  4. Vermy kafeïendrankies en soet drankies, veral in die middag.
  5. Moenie voor slaaptyd oefen nie.
  6. Doen iets ontspannend voor slaaptyd, soos om rustig in die bad te lê of 'n boek te lees.
Log in