Jou gids tot influensa en die griep-inenting
Die griep-inenting verlaag die risiko dat influensa (griep) jou ernstig siek sal maak en beperk die verspreiding van die infeksie na ander mense. Lees verder om meer oor griep en die entstof te wete te kom.
Meeste mense wat griep kry, word net effens siek met simptome soos koors, 'n droë hoes, hoofpyn, spier- en gewrigspyn, en 'n seer keel of 'n loopneus. Ander mense kan egter komplikasies kry wanneer hulle griep het wat hulle in die hospitaal kan laat beland.
Die griep-inenting verlaag jou risiko om griep te kry en beperk die verspreiding van die siekte na ander.
Wat is die simptome van griep?
Volgens die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes (NIOS) is die mees algemene simptome:
- 'n Skielike aanvang van koors
- Spierpyn en liggaamspyne
- 'n Droë hoes
- 'n Seer keel
- 'n Loopneus
- 'n Algemene gevoel van moegheid of ongesteldheid
- 'n Hoofpyn
As dit 'n ligte griep is, begin die simptome binne een tot vier dae ná die infeksie en duur ongeveer twee tot sewe dae. Meeste mense se simptome gaan sonder behandeling weer weg. Pasiënte wat ernstig siek is, moet egter in die hospitaal opgeneem word, aangesien ernstige griep lewensgevaarlik kan wees.
Hoe word griep behandel?
"Meeste mense het bedrus, baie vloeistowwe en parasetamol nodig om hul koors en pyn te verlig," sê dr. Noluthando Nematswerani, Discovery Health se Hoof- Kliniese Beampte. "Dokters kan antivirale medisyne vir ernstiger griepgevalle voorskryf, veral as die pasiënt 'n hoë risiko het om ernstig siek te word."
- Waarom ons nie antibiotika moet gebruik om griep te behandel nie. Dr. Nematswerani verduidelik: "Griep is 'n siekte wat deur 'n virus veroorsaak word. Antibiotika behandel bakteriële infeksies en behoort dus nie gebruik te word om griep te behandel nie. Slegs indien die toestand vererger en daar tekens van 'n bakteriële infeksie is, kan antibiotika oorweeg word. Jou gesondheidsorgverskaffer sal jou hierin lei."
Hoeveel beskerming bied die griep-inenting teen ernstige griep?
"Griep-inentings stimuleer jou liggaam om teenliggaampies te vorm, ongeveer twee weke nadat jy ingeënt is. Hierdie teenliggaampies beskerm jou teen infeksie en ernstige siekte," sê dr Nematswerani. "Ons het elke jaar toegang tot nuwe griep-entstowwe omdat griepvirusse vinnig verander. Die entstowwe word so na as moontlik aangepas by die nuwe griepvariante wat navorsing toon waarskynlik gedurende die koue seisoene dominant sal wees."
Die doeltreffendheid van die griep-inenting hang af van:
- Jou immuunstelsel en jou reaksie op die entstof.
- Hoe goed elke jaar se griep-entstowwe ooreenstem met die variante van die griepvirus wat gedurende die seisoen sirkuleer
"Oor die algemeen is griep-inentings so 40% tot 60% doeltreffend om griep by gesonde volwassenes te voorkom. Dit is 'n baie goeie mate van beskerming wat ons nie sonder die entstof sou hê nie," verduidelik dr. Nematswerani.
Die griep-inenting kan jou nie griep gee nie. Dit stel jou liggaam bloot in staat om die teenliggaampies te ontwikkel wat nodig is om griepvirusse af te weer.
Dr. Nematswerani sê: "Onthou, ná jou griep-inenting neem jou liggaam sowat twee weke om teenliggaampies teen griep te ontwikkel. Sommige mense word siek ná hul inenting, maar dit is nie die entstof wat dit veroorsaak het nie. Dit is meer waarskynlik dat hulle voor of gedurende die twee weke waarin teenliggaampies ontwikkel, aan die griepvirus blootgestel is. Ons kan ook ander siektes kry, soos verkoue, wat soortgelyke simptome as griep kan hê."
- Vir die meeste mense is dit baie veiliger om 'n griep-inenting te kry as om griep te kry: Soos dr. Nematswerani verduidelik: "Griep-inentings is veilig en word goed verdra. By sommige mense kan dit pyn, rooiheid of swelling by die inspuitplek veroorsaak. Dit kan ook hoofpyn, koors en spier- of gewrigspyn veroorsaak. Hierdie simptome verdwyn gewoonlik binne 'n dag of twee en is bloot 'n teken dat jou immuunstelsel gestimuleer is (wat 'n goeie teken is)."
- Kan die griep-inenting ernstige gesondheidsprobleme veroorsaak? In baie seldsame gevalle (een uit 'n miljoen) kan mense 'n ernstige allergiese reaksie op 'n griep-inenting hê. Gesels met jou dokter as jy meer inligting wil hê voordat jy ingeënt word.
Praat eers met jou dokter as jy:
- In die verlede 'n allergiese reaksie op 'n griep-inenting gehad het
- Allergies is vir hoendereiers
- Al ooit Guillain-Barré-sindroom gehad het
As jy 'n matige of ernstige siekte met koors het, wag totdat jy beter voel voordat jy 'n griep-inenting kry.
Wie behoort nie 'n griep-inenting te kry nie?
Kinders jonger as ses maande en mense met ernstige, lewensgevaarlike allergieë vir enige bestanddeel in 'n griep-entstof (behalwe eierproteïene).
Hoe dek my skemavoordele my griep-inenting?
Remedi betaal vir een seisoenale griep-inenting per jaar vir lede wat 'n hoë risiko het om ernstig siek te word aan griep:
- As jy beskou word as iemand wat 'n hoë risiko het, dek die Siftings- en Voorkomingsvoordeel jou griep-inenting elke jaar.
- As jy nie beskou word as iemand wat 'n hoë risiko het nie, word jou griep-inenting uit jou beskikbare dag-tot-dag-voordele betaal, na gelang van jou gekose voordeelopsie.
Waar kan jy jou griep-inenting kry?
Kry jou griep-inenting by jou gesondheidsorgverskaffer (huisdokter of geregistreerde verpleegkundige) of by jou naaste apteek. Maak 'n afspraak en maak seker dat hulle die griep-entstof in voorraad het voordat jy gaan.