10 maniere om elke dag gesonder te eet

Is dit vir jou moeilik om by 'n gesonde dieet te hou? Probeer hierdie 10 maklike wenke om gesonde eetgewoontes deurlopend bereikbaar en pret te maak!

1. Eet 'n mengelmoes

Volgens deskundiges oor gesonde eetgewoontes is die beste manier om voedingsbalans te kry, om 'n verskeidenheid kosse te eet. Elke basiese voedselgroep - suiwel, graan, vette, proteïen, groente en vrugte - gee jou verskillende voedingstowwe wat noodsaaklik is vir die normale en gesonde funksionering van ons liggame.

2. Onthou ontbyt

Nee, koffie op sy eie tel nie as onbyt nie! Kry die dag aan die gang met 'n gesonde ontbyt, soos eiers, sampioene en tamatie of hawermout met vars vrugte en suiwel. Dit sal jou die krag gee om op dreef te kom. Navorsing het bewys dat om elke oggend ontbyt te eet, jou kan help om jou gewig te beheer, omdat dit bloedsuikervlakke stabiel hou en verhoed dat jy lus raak om te peusel.

3. Kou 'n reënboog

Groente en vrugte is vol vitamiene, minerale, antioksidante en vesel; deur dus vyf porsies daarvan per dag te eet, help jy om seker te maak dat jy jou voedingsbehoeftes bevredig. Probeer om opsies uit elkeen van die vyf groentesubgroepe te kies.

  • Donker blaargroente (soos spinasie, raapblare, kool, beetblare, groen kruie en bindslaai)
  • Oranje groente (wortels, patats, botterskorsie en pampoen)
  • Peule (bone, lensies, kekerertjies en splitertjies)
  • Styselryke groente (mielies en aartappels)
  • Ander (tamaties, kool, seldery, komkommer, slaai, uie en rissies)

4. Porsiegrootte

Bly by die aanbevole porsiegroottes. As jy kleiner borde, bakkies en glase gebruik, kan jy die porsies beheer. Onthou om water te drink en stadig te eet sodat jy nie 'n tweede porsie inskep voordat jy besef dat jy eintlik versadig is nie.

5. Beweeg meer

Genoeg, gereelde oefening kan jou help om jou gewig te beheer. Fisieke aktiwiteit is ook belangrik om gesond te bly, omdat dit bloeddruk verlaag en help om stres en angstigheid te verlig. Mik vir minstens 30 minute van oefening teen 'n matige tot hoë intensiteit vir die meeste dae van die week.

6. Pak peuselhappies in

Gesonde peuselhappies kan jou energievlakke tussen etes stabiel hou en verhoed dat jy te veel van die verkeerde soorte kos eet. Probeer 'n handvol ongesoute neute, vars vrugte saam met onversoete jogurt of 'n glas melk.

7. Wees 'n etiketslaaf

Om te weet watter soort vette om te vermy en hoeveel natrium (sout) of suiker te veel is vir 'n porsie, kan jou help om gesonder etes te koop en voor te berei. 'n Dieetkundige kan jou raad gee oor hoe om kosetikette te lees en te verstaan sodat jy vinniger slimmer keuses kan maak wanneer jy kruideniersware koop.

8. Stof jou koshigiëne af

Onthou om altyd jou hande deeglik te was voordat jy kos voorberei om die risiko te verlaag om van jou kos siek te word. Maak seker dat jou kos deeglik gaar is en verkoel kosse tot 'n gepaste temperatuur om die groei van bakterieë teen te werk.

9. Eet huiskos

As jy tuis kook en eet, weet jy presies wat in jou kos is. Sodoende kan jy voorkom dat jy onwetend te veel suiker, sout en ongesonde vette eet. Navorsing toon boonop dat gesinsetes gesonder eetgewoontes bevorder. Dek dus die tafel, vermy die skerms en skakel op mekaar se golflengtes in.

10. Pak jou middagete in

Deur jou middagetes vir weeksdae in te pak, gaan jy minder (ongesonde) impulsiewe aankope maak wat jou geld sal spaar. As jy onseker is oor hoe om reg te eet, vra 'n deskundige - dit is waarvoor hulle daar is. 'n Dieetkundige kan help om al hierdie wenke bymekaar te trek en 'n verpersoonlikte en volhoubare eetplan vir jou en jou gesin op te trek.

Begin vandag met een eenvoudige verandering om gesonde eetgewoontes vir altyd deel van jou lewe te maak.

Log in