Herstel liggaamlik en finansieel ná ’n motorongeluk

As u in ’n motorongeluk is, is u eerste prioriteit om na uself om te sien.

Hoe ons eise vir motorongelukke dek

As u of enige van u afhanklikes in ’n motorongeluk is, bel ER24 by 084 124 vir ambulans- en ander nooddienste. Hulle sal ’n ambulans of helikopter na u toe stuur as dit medies nodig is. Ons dek hierdie nood- mediese vervoer uit u Risikovoordeel.

U kan ook self direk na ’n ongevalle-eenheid toe gaan. As u in die hospitaal opgeneem word, moet u dan net vir iemand vra om ons binne 24 uur te bel.

U kan ook dekking uit die Traumaherstelvoordeel kry

Ons het die Traumaherstelvoordeel ontwerp om u te help ná sekere traumatiese gebeurtenisse. Ons betaal sommige van die mediese uitgawes wat veroorsaak word deur die trauma uit die traumaherstelvoordeel vir die res van die kalenderjaar waarin die trauma gebeur het. Dit sluit uitgawes in vir:

  • Kwadriplegie
  • Paraplegie
  • Uitwendige en inwendige kopbeserings

Die Padongelukfonds kan help om dié uitgawes te dek

Die Padongelukfonds gee dekking vir almal wat Suid-Afrikaanse openbare paaie gebruik. Die dekking is daar as iemand in ’n motorongeluk beserings opdoen of sterf. Dit bied vrywaringsversekering aan die mense wat die ongeluk veroorsaak het en ook persoonlike beserings- en doodsversekering aan die slagoffers van motorongelukke en hul gesinne.

Die mediese eise ná ’n motorongeluk kan ’n groot deel van die geld in u Hospitaalvoordeel, Versekerde Buite-hospitaalvoordeel en Persoonlike Mediese Spaarrekening opgebruik. Dit kan ook veroorsaak dat u u voordeellimiete vinniger bereik. Dan los dit min dekking vir ander mediese versorging.

Eis van die Padongelukfonds, sonder moeite

Laat weet ons so gou moontlik as u in ’n motorongeluk was en ons sal u na ’n prokureur verwys. As u die prokureur gebruik wat ons voorstel, hoef u hulle nie te betaal om vas te stel of u van die Padongelukfonds kan eis of nie.

U kan ook u eie prokureur gebruik. Vra u prokureur om met ons te gesels sodat ons die eise vir die ongeluk kan deurstuur. Ons kan ook enige vrae beantwoord wat hy of sy het.

U het nog steeds u gewone dekking terwyl u wag om van die prokureur te hoor en terwyl hulle vir die Padongelukfonds wag om u eis te evalueer (as u besluit om te eis).

Betaal die mediese uitgawes wat ons betaal het, aan ons terug

As die Padongelukfonds die mediese uitgawes wat Remedi reeds betaal het aan u betaal, moet u die geld aan ons terugbetaal. Dit is sodat u nie twee keer voordele vir dieselfde gebeurtenis kry nie en om ‘onregverdige verryking’ te voorkom. ‘Onregverdige verryking’ gebeur wanneer een persoon ryker word tot nadeel van iemand anders, en die wet beskou dit as verkeerd. As ons byvoorbeeld uit u Persoonlike Mediese Spaarrekening vir behandeling betaal wat met die ongeluk te doen het, moet u die geld aan ons terugbetaal. Dit is sodat ons die bedrag wat die Padongelukfonds betaal, in u Persoonlike Mediese Spaarrekening kan terugsit. U kan die geld in u Persoonlike Mediese Spaarrekening dan vir ander mediese sorg gebruik.

Die Padongelukfonds kan u vir verskeie dinge vergoed. Hulle kan bedrae toeken:

  • Vir mediese uitgawes
  • As vergoeding vir u verlies aan inkomste
  • As vergoeding vir u pyn en lyding

U hoef net die bedrag wat die Padongelukfonds spesifiek vir mediese uitgawes betaal, aan ons terug te betaal.

Daar kan meer as net die mediese koste wees

Die werklike koste van ’n ernstige ongeluk is meer as net die koste van gesondheidsorg. U kan vir ’n tyd lank dalk nie ’n inkomste verdien nie, of selfs medies ongeskik verklaar word. Gelukkig het Suid-Afrikaners ’n mate van finansiële beskerming van die Padongelukfonds. As u, of ’n lid van u gesin ernstig seer kry in 'n motorongeluk (as 'n bestuurder, passasier, fietsryer of voetganger), kan u eis vir:

  • Verlies aan inkomste as gevolg van die ongeluk asook waarskynlike inkomsteverlies in die toekoms
  • Mediese uitgawes wat u self betaal het of in die toekoms gaan betaal
  • Mediese uitgawes wat Remedi betaal het of in die toekoms gaan betaal (hierdie geld gaan terug in u voordele in)
  • Mediese ongeskiktheid as gevolg van ernstige beserings

As u enige vrae het, stuur gerus ’n e-pos na discovery_third_party_recovery_services@discovery.co.za. U kan ook verdere inligting oor die Padongelukfonds op hulle webwerf by https://www.raf.co.za kry.

Log in