Siftingstoetse: Wat, wanneer en hoe gereeld?

Hoe goed ken jy jou gesondheidsgetalle? Wanneer laas het jy jou cholesterolvlakke, bloedsuikervlakke en bloeddruk laat meet en jou vir MIV laat toets? Wat van siftingstoetse vir kanker en ander soortgelyke toetse? Dit is die maklikste maniere om siektes wat ernstig kan wees, vroeg op te tel en so gou as moontlik aandag daaraan te gee.

"Om gereeld vir voorkomende siftingstoetse te gaan, is 'n belegging in jou eie gesondheid," sê dr. Noluthando Nematswerani.

"Om met hierdie toetse by te hou, is die enigste manier om siektes wat moontlik rampspoedig kan wees, soos diabetes, hartsiektes, kanker en ander, vroegtydig op te spoor. Die gesondheidsondersoeke wat hierdie toestande vroegtydig opspoor, is die eenvoudigste, vinnigste manier om te toets vir algemene toestande wat ernstige gesondheidskomplikasies kan hê as jy nie weet dat jy daaraan ly nie.

Watter gereelde, voorkomende siftingstoetse moet jy dus laat doen?

Lede van Remedi Medical Aid Scheme het toegang tot noodsaaklike sifting- en voorkomingsvoordele vir 'n klomp toetse wat jou lewe kan red. Dit sluit in:

  • Mammogramme (siftingstoets vir borskanker)
  • Papsmere (siftingstoets vir servikale kanker)
  • Siftingstoetse vir dermkanker wat een toets vir fekale okkulte bloed of 'n fekale immunochemiese toets elke twee jaar insluit vir lede tussen die ouderdom van 45 en 75 jaar.

Hierdie toetse word tydens jou gesondheidsondersoek (wat omtrent 30 minute neem) gedoen:

  • MIV-toets
  • Vasstelling van jou liggaamsmassa-indeks (die verhouding van jou gewig tot jou lengte) om te bepaal of jy meer weeg as wat jy veronderstel is
  • Bloedglukosetoets (vir diabetes)
  • Meting van jou bloeddruk (vir hoë bloeddruk)
  • Cholesteroltoets (vir hoë cholesterol)
Gaan vandag vir jou gesondheidsondersoek
  • Vind uit wat jou bloeddruk, bloedglukosevlak, cholesterolvlakke en liggaamsmassa-indeks is deur jou siftingstoetse by Clicks of Dis-Chem te laat doen.
  • Vind meer oor jou siftings- en voorkomingsvoordele uit deur die voordeelgids te lees.
  • Ons betaal vir hierdie siftingstoetse uit die Siftings- en Voorkomingsvoordeel. Dit sal dus nie jou dag-tot-dag-voordele beïnvloed nie.
Siftingstoetse vir bejaardes

Lede wat 65 jaar oud of ouer is, het dekking vir 'n ouderdomsverwante assessering van hul valrisiko. Indien hulle dit by 'n verskaffer in ons Welstandsnetwerk, wat Dischem en Clicks apteke insluit, laat doen, betaal ons tot en met die Skematarief.

Jy het moontlik dekking vir 'n bykomende assessering van jou valrisiko wanneer jy na 'n Premier Plus-huisdokter verwys word. Dekking hang af van jou siftingstoetse se uitslae en of jy aan die Skema se kliniese intreekriteria voldoen.

Jy kan een assessering per jaar in ons Welstandsnetwerk ondergaan. Enige addisionele toetse word uit jou beskikbare dag-tot-dag-voordele betaal, waar van toepassing.

Belangrik:

'n Premier Plus-huisdokter is 'n netwerk-huisdokter (algemene praktisyn) wat aan ons gekontrakteer is om aan jou gekoördineerde sorg vir 'n lys omskrewe chroniese toestande te lewer. Jy moet by jou huisdokter uitvind of hy of sy deel van die Premier Plus-huisdokternetwerk is voordat jy die toetse en assesserings laat doen.

Nadere besonderhede oor kankersiftingstoetse

Wanneer en hoe gereeld jy vir roetine-kankersiftingstoetse moet gaan, hang van jou kankerrisikoprofiel af.

Siftingstoetse vir borskanker
  • Indien jy nie 'n familiegeskiedenis van borskanker het nie, moet jy van die ouderdom van 40 jaar af vir mammogramme (borsskanderings) gaan en dit elke twee jaar laat doen.
  • Indien jy 'n familiegeskiedenis van borskanker het, begin wanneer jy tien jaar jonger is as wat die persoon (wat borskanker gehad het) was toe borskanker by haar of hom gediagnoseer is. In hierdie geval beveel ons jaarlikse siftingstoetse aan.
Toets vir servikale kanker

Hierdie toets vind abnormale selle sodat dit behandel kan word voordat die selle in servikale kanker omsit.

  • Diegene wat nie 'n hoë risiko vir servikale kanker het nie, moet siftingstoetse laat doen vandat hulle 25 jaar oud is. Daar word aanbeveel dat hulle:
    • Ten minste elke drie jaar vir 'n Papsmeer gaan of
    • Ten minste elke vyf jaar vir menslike papillomavirus (MPV - HPV in Engels) getoets word.

Hou in gedagte dat 'n Papsmeer vir voorkankerselle (premaligne selle) toets wat moontlik servikale kanker kan word indien dit nie behandel word nie. 'n MPV-toets kyk of die soort menslike papillomavirus teenwoordig is wat na servikale kanker kan lei.

  • Vir diegene wat 'n hoë risiko vir servikale kanker het (soos mense met MIV), word 'n Papsmeer elke jaar en 'n MPV-toets elke drie jaar aanbeveel.
Siftingstoetse vir kolorektale kanker
  • Daar word aanbeveel dat mens vanaf die ouderdom van 45 elke twee jaar stoelgangtoetse ondergaan.
  • 'n Kolonoskopie word aanbeveel vir diegene wat 'n hoë risiko het om hierdie kanker te ontwikkel, soos mense met 'n familiegeskiedenis van kolorektale kanker en diegene wat mediese toestande het wat die risiko vir kolorektale kanker verhoog.

Vir meer inligting oor jou sifting- en voorkomingsvoordele, lees bladsy 19 van Remedi se brosjure wat by www.yourremedi.co.za is. Volg hierdie roete as jy aangeteken het: Find a document > Benefit Brochures.

Log in