Tandheelkundedekking

Glimlag breed oor jou tandheelkundevoordele van Remedi

Ons vergeet soms hoe belangrik ons tande vir ons algemene gesondheid is. Onbehandelde tandbederf en swak mondhigiëne kan tandvleissiekte en selfs hartsiektes en beroertes veroorsaak.

'n Paar wenke om jou te help om jou tande te versorg

Jy moet verkieslik jou tande twee keer per dag borsel. Onthou om die voor- én agterkant van jou tande te borsel, en moenie vergeet om gereeld te vlos nie.

  • Gebruik tandepasta wat fluoried bevat.
  • Gebruik 'n nuwe tandeborsel nadat jy verkoue, griep, mondinfeksie of 'n seer keel gehad het. Kieme kan op die hare van die tandeborsel agterbly, wat kan veroorsaak dat jy weer infeksie kry.
  • Om te verhoed dat verkoue- en griepvirusse na ander tandeborsels versprei, maak seker dat jou tandeborsel nie aan ander tandeborsels raak wanneer jy dit bêre nie.
  • Eet 'n gebalanseerde dieet en beperk soet versnaperinge en drankies tussen maaltye.

Hoe ons jou tandheelkunde dek

As lid van Remedi het jy dekking vir basiese tandsorg, ongeag op watter voordeelopsie jy is. Dit sluit dekking vir tandartsbesoeke, stopsels en die trek van tande in.

Lede wat op die Standaard Opsie geregistreer is, kan hierdie basiese tandsorg deur die Dental Risk Company (DRC) kry. As jy op die Standaard Opsie geregistreer is, kan jy DRC by 087 943 9611 kontak om jou beskikbare tandheelkundevoordele te bevestig of om meer inligting oor jou tandheelkundedekking te kry.

Op die Omvattende en Klassieke Opsies het jy ook dekking vir gespesialiseerde tandheelkunde, bykomend tot die basiese dekking wat ons hier bo noem.

Verskil tussen basiese en gespesialiseerde tandheelkunde

Daar is basies twee kategorieë tandheelkundige dienste: gespesialiseerde en basiese tandheelkunde. Albei speel 'n noodsaaklike rol in die handhawing van mondgesondheid, maar elkeen het 'n ander fokus en benadering.

Basiese tandheelkunde behels roetine-ondersoeke en skoonmaak, stopsels, die trek van tande en voorkomende maatreëls om mondgesondheid te handhaaf. Hierdie dienste word gewoonlik deur 'n algemene tandarts verskaf en word as die grondslag van tandheelkundige sorg beskou. Die doel van basiese tandheelkunde is om probleme met tande te voorkom en die mond gesond te hou, deur gereelde skoonmaak en ondersoeke.

Aan die ander kant fokus gespesialiseerde tandheelkunde op meer komplekse en gespesialiseerde tandheelkundige prosedures, soos ortodonsie, periodonsie en prostodonsie. Ortodonsie werk aan die belyning van tande en bytprobleme (byvoorbeeld deur draadjies te gebruik). Periodonsie fokus op tandvleissiekte en prostodonsie gee aandag aan die vervanging van ontbrekende tande (byvoorbeeld met krone). Hierdie dienste word gewoonlik gelewer deur tandheelkundige spesialiste wat gevorderde opleiding in hul onderskeie velde voltooi het.

Die tabel hier onder gee 'n hoëvlakoorsig van die verskille tussen gespesialiseerde en basiese tandheelkunde en toon aan waarvoor ons dekking gee onder elkeen.

Terminologie

Beskrywing

Bybetaling

Dit is 'n bedrag wat jy self vir 'n gesondheidsorgdiens moet betaal. Die bedrag kan verskil na gelang van die tipe gesondheidsorgdiens wat gedek word of die plek van diens. Indien die diensverskaffer meer vra as wat die tarief is wat Remedi dek, moet jy die verskil betaal tussen die bedrag wat die verskaffer vra en die bedrag wat ons betaal. Dit geld ook vir hospitaalrekeninge.

Dagkliniek

Dit is 'n gesondheidsorgfasiliteit waar pasiënte 'n deel van die dag onder mediese toesig deurbring, maar nie oornag nie.

Dag-tot-dag-voordele

Hierdie voordele sluit toegang tot jou beskikbare Versekerde Buite-hospitaalvoordeel en Persoonlike Mediese Spaarrekening (PMSA) in, indien van toepassing.

Gespesialiseerde tandheelkundige behandeling

Dit sluit ortognatiese chirurgie, wortelkanaalbehandeling, ortodontiese behandeling, krone of brûe, periodontiese behandeling en inplantate in.

Basiese tandheelkundige behandeling

Ons omskryf basiese tandheelkundige behandeling as die diagnose, voorkoming en behandeling van siektes van die tande, tandvleis en verwante strukture van die mond. Dit sluit tandartskonsultasies, skoonmaak en voorkomende sorg, die trek van tande, noodpynverligting, intra-orale radiografie (mond X-strale), plaaslike verdowing, stopsels en plastiese kunsgebitte in.

Remedi se tarief of die Skematarief

Dit is die tarief wat ons vir die gesondheidsorgdienste van hospitale, apteke, gesondheidsorgkundiges en ander verskaffers van verwante gesondheidsdienste betaal. Remedi se tarief of die Skematarief is 'n tarief wat ons met diensverskaffers beding het.

Indien jou dokter 'n hoër tarief as Remedi se tarief of die gekontrakteerde fooi hef, betaal ons eise teen Remedi se tarief of die onderhandelde tarief.

Verwante rekeninge

'n Verwante rekening vir tandheelkundige behandeling is enige rekening vir tandheelkundige behandeling wat in 'n hospitaal of enige dagkliniek gedoen word. Dit verwys nie na die hospitaal- of dagkliniekrekening nie. Dit kan die narkotiseur, tandarts of tandheelkundige spesialis se rekening wees.

Indien jy 'n kombinasie van basiese en gespesialiseerde tandheelkundige behandeling op dieselfde dag kry, sal 'n paar faktore jou dekking beïnvloed. Jou dekking word bepaal deur die soort gespesialiseerde behandeling wat jy kry, die soort dokter wat jou behandel en ook waar die behandeling plaasvind (in die hospitaal of in die spreekkamer). Om meer oor spesifieke dekking uit te vind, kontak ons kliëntedienssentrum gerus by 0860 116 116 of service@yourremedi.co.za en vra vir 'n gespesifiseerde kwotasie.

Vir meer inligting, lees asseblief die afdeling oor Tandheelkundevoordele in Remedi se voordeelbrosjure.

Om hierdie brosjure op ons webwerf op te spoor, besoek www.yourremedi.co.za en klik op FIND A DOCUMENT bo-aan die bladsy. Kies dan Find a document in die kieslys wat verskyn.

Log in