Jou dekking vir verskillende soorte verskaffers (aangewese diensverskaffers en nie-aangewese diensverskaffers)

Hoe ons jou gesondheidsorg dek wanneer jy aangewese diensverskaffers gebruik

By Remedi streef ons daarna om aan jou omvattende gesondheidsorgdekking te gee. Een van die maniere waarop ons dit doen, is deur aangewese diensverskaffers.

Wat 'n aangewese diensverskaffer is

'n Aangewese diensverskaffer is 'n gesondheidsorgverskaffer of -fasiliteit wat 'n kontrak met Remedi het. Hierdie verskaffers is sorgvuldig gekies en hulle moet aan ons standaarde voldoen om aangewese diensverskaffers op die Skema te bly. Jy kan dus verseker wees dat hierdie verskaffers jou altyd die beste behandeling sal gee.

Waarom jy verkieslik 'n aangewese diensverskaffer moet gebruik

Ons moedig jou aan om sover moontlik ons netwerk van aangewese diensverskaffers te gebruik. Dit verseker jou nie net dat jy kwaliteit gesondheidsorgdienste kry nie, jy sal ook nie bybetalings hê of ander bedrae self moet betaal nie.

Dit is veral belangrik om aangewese diensverskaffers te gebruik om jou toestande en behandeling volgens die Voorgeskrewe Minimum Voordele (VMV) ten volle te dek.

Wat is Voorgeskrewe Minimum Voordele?

Volgens wet moet alle mediese skemas die koste vir die diagnosering, behandeling en sorg van die volgende dek:

  • 'n Nood- mediese toestand (sien die afdeling hier onder om te sien wat as 'n nood- mediese toestand beskou word)
  • 'n Omskrewe lys van 271 diagnoses
  • 'n Omskrewe lys van 27 chroniese toestande

Dit word die Voorgeskrewe Minimum Voordele genoem en ons dek dit indien:

  • Jou mediese toestand vir dekking kwalifiseer en op die omskrewe lys van VMV-toestande is.
  • Die behandeling van jou toestand ooreenstem met die behandeling wat in die omskrewe voordele uiteengesit word.

Jy moet aangewese diensverskaffers in ons VMV-hospitaalnetwerk (Mediclinic), Huisdokternetwerk, Spesialisnetwerk en Geestesgesondheidsnetwerk gebruik. Dit geld nie vir 'n mediese noodgeval nie, maar ons mag versoek dat jy na 'n Mediclinic-hospitaal of ander diensverskaffer in ons netwerk oorgeplaas word sodra jy gestabiliseer is.

Let wel: Indien jy nie 'n aangewese diensverskaffer gebruik nie, kan ons (na gelang van jou gekose voordeelopsie) teen 100% van die Skematarief of 'n verminderde Skematarief betaal vir enige VMV-eis. Dit beteken dat jy die verskil moet betaal tussen hoeveel ons betaal en hoeveel die verskaffer vir die behandeling vra.

Omskrywing van nood- mediese toestande

'n Nood- mediese toestand is die skielike en, ten tye daarvan, onverwagte begin van 'n gesondheidstoestand wat onmiddellike mediese of chirurgiese behandeling vereis, en indien jy versuim om mediese of chirurgiese behandeling te kry, sal uitloop op ernstige aantasting van liggaamsfunksies of die ernstige disfunksie van 'n liggaamsorgaan of -deel, of jou lewe in ernstige gevaar sou stel.

'n Noodgeval vereis nie noodwendig hospitaalopname nie. Ons kan jou moontlik vra vir bykomende inligting om die noodgeval te bevestig.

Baie belangrik

In 'n noodgeval kan jy na enige hospitaal toe gaan en ons sal die koste dek vir die eerste 24 uur of totdat jy stabiel is. Indien jy verdere hospitaalbehandeling nodig het, mag jy na 'n netwerkhospitaal oorgeplaas word. Indien jy nie oorgeplaas wil word wanneer ons jou na 'n netwerkhospitaal toe wil skuif nie, sal jy self die res van die hospitaalrekening moet betaal.

Kry verdere inligting
  • Vind 'n aangewese diensverskaffer in jou omgewing deur op ons webwerf te kyk of ons by 0860 116 116 te skakel.
  • Besoek gerus www.yourremedi.co.za. Sodra jy ingeteken het, volg hierdie roete: Find a document > Benefit Guides om meer inligting te kry oor hoe ons eise van aangewese diensverskaffers en nie-aangewese diensverskaffers betaal.
Log in